Verbeeldingreis

In die bed.  Vakansies is vir voetslaan, ontdekking en verkenning.  Dis bedoel vir pelgrimstogte en epiese getrek na veraf eksotiese bestemmings.  Maar ek le in die bed. Lyfseer, kloppende kop, brandende tandvleis, loopneus, rasperkeel en `n teleurgestelde vrou.  

Mannegriep? Verbeelde en oordrewe simtone?

Gelukkig staan die bed in `n vriend se huisie op die Isle of Wight.  By die venster uit sien ek die hawe van St. Helen’s, `n gehuggie aan die ooskus van die Engelse Kanaal-eiland.  Dis Engeland soos jy jou dit verbeel het: prentjiemooi, “chocolate box”.

Isle of Wight
Isle of Wight

In my verbeelding was ek al hier.  Nie “de ja vu” nie, maar beslis iewers op `n sjokoladekardoes het ek al iets hiervan gesien. Ek kan jou selfs se waar.  Op die Durbanse voorstrand, net noord van die “Cuban Hat” was daar `n arkade vol speletjies: jy moes hase met tennisballe raakgooi, of ringe om ganse se nekke kry. “Roll up, roll up, three brass balls for a bob!”

Die stalletjies was  oorvol pryse: reuse teddiebere, kleurvolle  koekblikke, en groot bokse sjokolade met paradyse op die deksels en die nektar van die gode daarin.  So mooi was die bokse, dat ouma hulle nie kon weggooi nie.  Knope, tolle garing, speldekussings en vingerhoede het onder die Engelse landskappe plek gekry. En soms, as daar nie meer snuisterye was wat iewers gebere moes word nie, is die kardoese soos skilderye staangemaak op die draadloos en die sideboard.  Ma, weer, was kranig in die kombuis en was altyd op soek na `n koekblik.  Een met groot geel, groen, blou en rooi papegaaie is saam huis toe. Daai papegaaie was my hele kleintyd die bewakers van fudge, vanilje sponskoeke of, met Kersfees, koffiekoekies.  Want sien, Pa was behendig met die speletjies – ek is heeltemal onbeholpe en jy sal my nie oortuig om eers te probeer nie! – dus is ons selde daar weg sonder buit.

Min reise is so opwindend soos vlugte van die verbeelding en reise van herinnering.  Hier le ek in die bed in die vreemde en ek voel my weer tuis in Ma se kombuis en Ouma se sitkamer.  Want by my venster uit, sien ek `n sjokoladekardoes-Engelse landskap.  Dat ons vandag in `n sjokoladewinkel in Ryde tuisgemaakte frandisies gekoop het, het seker ook gehelp.

Vakansie in die bed is nie net sleg nie!

Advertisements

One thought on “Verbeeldingreis

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s