En die wat teen ons sonde doen…

Ek het dit van Hans geleer (ek dink steeds sy geloofsbou was `n juweel): dat mens ewe versigtig moet wees vir sonde wat jy self doen en vir sonde wat ander jou aandoen.

Die eerste is gevaarlik oor dit uit jou natuur by jou opkom. Jy’s vas oortuig dat wat jou hand vind om te doen, goed is.  Die tweede is gevaarlik oor dit heilige woede ontketen.  Jou reaksie is geregverdigd.  Daai Newton-wet wat vliegtuie laat vlieg verstaan ek nou nog nie, maar dit werk in die natuur blykbaar ook so:  elke aksie het `n gelyke maar teenoorgestelde reaksie.  `n Oog vir `n oog… Dis met my nie anders nie.

Bron: BBC
Bron: BBC

Sedert die ding met Jakkals, vertrou ek geen joernalis as dit die waarheid is waarna ek soek nie.  Hier op die eiland het ek in my weersin verhard.  Die poniepers het `n manier gevind om selfoonboodskappe af te luister, en het agter mediavryheid gaan wegkruip toe vereis word dat hulle hulle nuusbronne moet onthul.   Daar was baie slagoffers: die koninklikes, Hugh Grant, sokkerspelers, die McCanns (wie se dogter in Portugal weggeraak het) – trouens as jy die voorblad gehaal het, kon jy maar weet jou selfoon is gelees. Die laaste strooi was `n vermoorde tienerkind.  Toe sy soek raak, het haar ouers boodskappe op haar selfoon gelaat wat nie net deur `n joernalis afgeluister is nie, maar ook afgevee is, en toe die hoop laat opvlam het  dat sy leef.

`n Politieke storm het losgebars, en min mense doen heilige woede met soveel oorgawe soos die Engelse. Die duiwel was los.  Mediareuse is die een na die ander hof toe gesleep.  Die selfvoldane aanmatiging en gewaande onaantasbaarheid van die mediahuise het die asem weggeslaan. Die gruwel het hand-uitgeruk, en die woedende reaksie was bloeddors.  `n Ondersoek is gelas.  Regter Leveson het eindelik aanbeveel dat statutere beheer van die media nou onvermydelik geraak het.

Hier le die knoop:  vryheid van spraak.  Hoe muilband jy in een van die wereld se oudste demokrasiee hierdie hoeksteen van vryheid, en verwag dat die demokrasie gaan oorleef?  Dit was so hittete.  So kwaad was die linkse politiek vir die linksleunende pers dat die knie-stoot reaksie was: `n stang in die pers se bek! (Heel gepas Engels, dus! Die Britte roem hulle mos op hul sin vir ironie.)

Daar is vandag op `n kompromis ooreengekom.  Maar dit het boomskraap gekos.  Gelukkig het hierdie  koninkrykie geen enkele “grondwet” nie, dog vele presedente en `n lang asem.  Daar’s diep gedelf: uit die elfde eeu dateer `n vorm van ordereel wat nie wet van die parlement is nie: `n Koninklike Handves (Royal Charter). Die is afgestof en nuwe lewe ingeblaas.  Die Handves word wel deur die Parlement in die lewe geroep en verg daarna `n tweederde meerderheid om herroep te word.  Maar daar eindig dit.  Politici sal nie oor die media kan heers nie. Die media kry in terme van die Handves `n waghond uit eie geledere wat norme vir die media in stand moet hou.  Sulke self-regulering, word gehoop, sal standaarde stel vir die joernalistiek terwyl die media vry bly van politieke inmenging.

Vir baie gaan dit nie ver genoeg nie: die media het met moord weggekom en die vagevuur is vir hulle te genadig.

Dit het my aan Hans herinner: sonde is erg, maar die sonde wat jou aangedoen word kan erger wees, want dis dan dat selfbeheersing op sy dunste gespan is, en om met gelyke geweld te reageer geregverdig lyk. Trouens, om jou daarvan te moet weerhou, smaak na onreg!  Om terug te veg is natuurlik.  Dis die maklikste opsie.  Dit verg nie moeite nie, dit kom sommer vanself.  Soos alle sonde mos maar? En hoeveel lyke het heilige oorloe nie al opgelewer nie?

Wraak en heilige oorlog saai groter verwoesting as die sonde wat die wiel aan die rol gesit het.  Dis om te vergewe diegene wat teen jou sonde doen, wat die bitterste pil  is.

State, ou koninkryke, volke en nasies, demokrasiee en vrye samelewings sukkel almal daarmee.  Ek is nie anders nie.  Dit was  so hittete, se ek soms vir myself in die stilligheid…

Advertisements

One thought on “En die wat teen ons sonde doen…

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s