Met ys, ja…

Daai was `n lekker advertensie.  Hulle weet nie so mooi van advertensies maak hier oor die water nie. Aan die ander kant, die nostalgie waarvan Laurika sing is `n wonderlike, wrede ding.  Verlange laat jou jou verbeel daar’s orals groener gras as onder jou eie voete.

Susan Maart 2013 135Wat van daai advertensie gewerk het, was dat die boer en sy brandewyn so verkeerd was, dog met soveel oorgawe en oortuiging verkeerd was, en met sulke goeie bedoelings, dat `n onwaarskynlike band ontstaan tussen hom en sy “gestrande” gaste.   Hulle het `n toeskietlikheid, aangevuur deur hulle gasheer se vasberade gasvryheid, en skouerophalend, met `n wanhopige “Eisj!” (“Met ys, ja!”), volg daar `n “nagmaal” van versoening.  Met brandewyn en Coke. 

Natuurlik is dit `n feeverhaal. Genugtig, dis die advertensiewese die, hoe dan anders?

`n Goeie vriend in beheer van `n groot internasionale sendinggenootskap is onlangs sy werk kwyt oor `n  onverkwiklike binnegeveg.  Dis om van te huil: hier is een van daai israeliete in wie daar geen bedrog steek nie, eindelik uitgewerk uit wat vir hom sy roeping was.  Soos vir alle ouens met `n sin vir roeping, was sy werk ook sy identiteit.

Hoekom kan gelowiges nie net saamwerk nie? Hoekom moet geloofsgemeenskappe so vol konflik wees?  Hoekom is kerkwees so bitter, bitter moeilik dat dit toegewyde mense later sinies en vervreemd laat?  Hoekom is ons dominees so verniel, ons Kerk geskeurd en die kerk van kerkloses so `n groeiende bedryf?

Dis maklik om te se, Mevrou, dis soetsappige stroop en nie evangelie nie – kruisig hom ook!  Ek dink nie ek is so dapper om die brandstapel met psalms te klim nie. Ek sou wou besgee, toeskietlik wees, onderhandel en kompromiee maak. Werk dit nie, sou ek my met my lot versoen en voortaan maar agter in die kerk gaan sit… tot ek eendag heeltemal ophou gaan. Wat ek gesoek het was net `n tikkie deernis, dalk geduld en miskien, op `n slegte dag, verdraagsaamheid.  Is dit te veel van gelowiges gevra? Waarom anders maak ons mekaar dan so seer?

Se Mike: “Dis oor gelowiges met soveel oortuiging verskil.” Want as ek reg is, kan jy mos nie ook reg wees nie? “Eisj” word “ys”. Winter of te not, hierdie ys gaan jy eet al moet ek dit in jou keel afdruk. Dis koud hier, se Mike.

Daar is natuurlik `n oplossing voor, maar dis nie `n gewilde een nie. Ek bedoel, jy kan heeltemal oortuig wees van jou feilbaarheid… Veral as sondebesef jou eerste geloofsbelydenis is: dat jy God verkeerd gehad het en die kanse 100% is dat jy dit weer gaan doen. Want dan is daar net hierdie klein, skrale, onbenullige ou kansie, ne, dat die ander ou ook `n stukkie waarheid beet het, en nie net die kat aan die stert het nie.

Maar kan ons met ons eie feilbaarheid vrede maak en dit soos `n kroon dra? Wel, onthou dan maar net, as niemand kan verkeerd wees nie, is daar ook nie nodigheid vir hervorming nie, en verinneweerde mense in die kerk is dan seker ook maar net per ongeluk.

Die boer met die brandewyn weet nie eers hy’t dit mis nie.  Maar sy gretige gasvryheid oorrompel jou. So verkeerd, dog reg.  Hy kom daarmee weg want hy’s van ander goed oortuig as waaroor ons veg. Wees bloot goed vir mekaar, vir die vreemdeling in jou poort ook.  Dis sy agenda.

Moenie dat dit jou tot drank (en ys) dryf nie.  Probeer verstaan, en as jy dit nie regkry nie, wees ten minste vriendelik.  Boer liefs met genade vir mekaar en praat gedurig met God. Dit lewer `n geiler oes op.   En, o ja, vat dan maar jou grassnyer saam kerk toe, want die groen goed groei gou.

Kyk weer na “Met ys, ja”.  Kliek hier.

Advertisements

One thought on “Met ys, ja…

  1. Vergun my hierdie aanhaling uit ‘n geskrewe stukkie van Neels Jackson. Dit is eintlik geskryf na aanleiding van die fliek Verraaiers wat nou in die flieks draai, maar ek dink dis ook toepaslik op wat jy hier skryf:

    “Ons moet baie meer bereid wees om te luister na standpunte wat van ons s’n verskil, om in hul skoene te probeer klim en te verstaan hoekom hulle dink soos hulle dink. Ons moet baie versigtiger omgaan met ons eie sekerhede, nie asof ons en net ons die volle waarheid beet het nie. Ons moet ons eie sienings baie deegliker toets, dit weeg en heroorweeg. Ons moet baie beter besef dat ons ten dele ken, dat elkeen van ons met beperkte insigte werk.

    Teen dié agtergrond kan ons steeds met mekaar verskil, maar ons hoef mekaar nie te verketter of letterlik of figuurlik te fusilleer nie. As ons meer daarvan kan regkry, sal ons almal sterker anderkant uitkom.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s