Werk tog sagkens met my kind

2 Samuel 18 tot 19 vers 8

15 Julie 2011

Susan Maart 2013 130Die familietwis word staatsgreep word burgerloorlog. Dawid en Absalom se twee weermagte neem teenoor mekaar stelling in. Hier kom `n bloedbad.

Dawid wil saam front toe, maar sy leër raai hom af: dit gaan `n slagting afgee, en as húlle moet vlug sal niemand eers daarop ag slaan nie. Dog as Dáwid by hulle sou wees, en moes vlug… Nie vreeslik bemoedigend om `n oorlog só aan te pak nie!

Maar Dawid gee toe: hy sal agterbly. Dog as hy dan nie self daar kan wees om die voortou te neem nie, is daar `n laaste opdrag aan sy drie leërhoofde: midde-in die stryd tot die dood toe wat oorlog mos maar is, “werk… tog [net] saggies met my kind Absalom”, vra Dawid. Die hele leër hoor Dawid smeek.
Hoe doen mens dit? Hoe is mens in `n oorlog genadig met die vyand? Een manier is dalk om te sorg dat jy nie oorlog maak teen jou kind nie.

Dit was `n groot slagting. Twintigduisend sneuwel. En die onherbergsame Efraimbos het daai dag meer lewens geëis as die swaard. Absalom het op `n muil gery, en sy kop het aan `n akkerboom vasgehaak en hom bo van die muil af geruk. Daar het hy tussen hemel en aarde bly hang.

`n Manskap het vir Joab, die hoof van Dawid se leër, daarvan gaan vertel. Joab is oorbluf dat die kêrel nie vir Absalom doodgemaak het nie. Daar is `n lekker beloning en `n eregordel vir die ou wat die vyand se koning op die slagveld doodkry. Nee, sê die man vir Joab, al was die beloning `n honderd maal groter sou ek nog nie die koning se seun skade berokken nie. Hy’t mos gevra ons moet tog net mooi werk met Absalom.

Dis oorlog dié, reken Joab. Dis nie die tyd vir soetsappige stroop nie. Hy gaan steek self `n spies deur Absalom se hart daar waar hy nog lewend aan die boom hang. Toe blaas hy op die ramshoring om die einde van die oorlog aan te kondig.

Twee boodskappers kies koers om vir Dawid te gaan sê die oorlog is gewen, `n Kussiet en Agimaäs, die priester Sadok se seun. Maar Joab eis dat die Kussiet die slegte nuus oor Absalom aan Dawid moet oordra. Agimaäs kan gaan om te troos. Agimaäs kom eerste by Dawid aan: die vyand is verslaan, is al wat hy sê.

Maar al wat Dawid wil weet is: “Gaan dit goed met my kind Absalom?”
Dawid sonder hom af. “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom my seun, my seun.”

Nes Amnon was Absalom ook maar `n derduiwel. Maar Dawid bly `n pa. En elke ouer wat sy sout werd is sal `n pak vat as hy sy kind dit kan spaar, al is die knaap `n booswig. Nes God met jou en my ook mos maak.

Dit lei tot een van die vreemdste oorwinningsdae na enige oorlog. Die manne sluip stil-stil die stad in soos hulle sou gemaak het as hulle weggehardloop het vir die geveg. Byna soos Goeie Vrydag wanneer jy nie kan regkry om bly te wees oor die oorlog teen jou sonde gewen is nie, want Jesus se dood is `n duur prys om te betaal.

Hierdie keer kry Dawid nie aangegaan nie, soos met die dood van Batseba se eerste kind nie. Dawid haak vas in sy rousmart. Totdat Joab vir hom die leviete gaan voorlees. Eindelik wys Dawid homself weer in die openbaar, en al die troepe kom voor hom verskyn. Die dankies gesê, kan ons nou weer vorentoe kyk.

Die storie van Dawid eindig gelukkiger: die volk vra hy moet terugkom, die reste van die Saul-familie kom vra vergifnis en Salomo, Dawid en Batseba se tweede seun, sou hom eindelik as koning opvolg.

Maar die gebed van Dawid bly my by: “Werk tog net sagkens met my kind”.

Ds. Hennie la Grange
International Christian Maritime Association, Londen
__________________________________________

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s