Toe het daar `n ding gebeur…

2 Samuel 13

12 Julie 2011

Een van Dawid se seuns raak versot op een van sy half-susters. Amnon raak siek van begeerte. Letterlik. Hy raak bedruk, só erg dat een van sy vriende dit agterkom en hom daarna uitvra. Tamar is `n maagd, `n mooie meisiekind, en die kulturele reëlings wat oor jongmeisies bestaan, maak dit amper onmoontlik dat Amnon ná aan haar kan kom. Dit vererger net sy lus.

Amnon en sy maat broei `n plan uit: Amnon moet hom siek hou en vra Tamar moet hom kom troos. Die kêrel is oortuigend: hy kry dit sowaar reg dat Tamar, met haar pa se toestemming nogal, alleen by hom in die kamer kom. Ongehoord, dog Dawid vertrou sy seuns. Dat niemand gekliek het wat aangaan toe die man nog hartvormige koekies ook vra nie, gaan die verstand te bowe. Maar juis so werk sonde in die familie: daar’s nie agterdog tussen naasbestaandes nie, en met dié kom mens weg met moord. Hegte families kamoefleer soms die ergste vergrype. Molestering en bloedskande is gesinsondes, en dit breek vir jou stukkend. Dan maak families die tweede fout: hulle steek die skande weg, en verniel so die slagoffer net verder.

“Nee, my broer…” smeek Tamar tevergeefs. Sy onderhandel met hom: kom ons kry Dawid se toestemming en trou. Amnon verkrag haar. Watter deel van “nee” begryp hy nie?

Dit vat net oomblikke vir Amnon se verliefdheid om om te sit in veragting en afsku. En sy afsku was groter as sy verliefdheid. Hy jaag vir Tamar soos `n hond weg. Hy laat haar uitsmyt en sluit die deur agter haar toe. “Lóóp!” skreeu hy. Hoekom gebeur dit? Hoekom is die sonde wat jy met alle geweld wou doen, skielik so afstootlik as jy dit eers gedoen het? Want dis presies hoe dit is.

Nes Tamar buite uitgesluit word, is haar lot beklink, haar verlore maagdelikheid voorbladnuus. Dis haar broer Absalom wat haar kom haal en huis toe vat. Dawid was woedend. Maar Dawid doen niks. En dis hierdie onreg wat Dawid ongestraf laat bly wat die onheil onder sy seuns laat oorkook.

Absalom reël `n fees met die skaapskeerdery en nooi die hele familie uit, veral vir Amnon. Dawid ruik lont. Maar hy keer nie. Weer keer die vertroue van familie dat hy `n stokkie steek voor die dreigende ramp. Dawid verstaan dalk die politiek, maar wat mense laat tiek, verstaan hy nie.

Toe Amnon lekker jolig raak van die wyn, laat Absalom vir Amnon doodslaan.

Die eerste berig wat by Dawid uitkom, is oordrewe: ál sy seuns is dood. Maar Samma kom sê vir Dawid wat Dawid self uit die staanspoor moes besef het: “Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het.” Jy moes dit gesien kom het, Dawid. Ons almal het.

Absalom vlug ballingskap in. Dawid het hom nie loop soek nie, nie eers om teen hom te gaan oorlog maak nie. Net die feit dat hier geskryf staan wat Dawid toe nié gedoen het nie, laat jou weet: daar’s verwag dat hy minstens iéts sou doen. Maar hy het nie. Oor Dawid hom met Amnon se dood versoen het, so word dit ter verdediging van Dawid verduidelik. Maar daar staan ook: “Dawid het die hele tyd net oor sy seun Amnon getreur.” En wie kan hom kwalik neem? Verkragter, skermunkel, maar dit bly jou kind. Dog vir Absalom laat hy met niksdoen weet: jy’s net nie belangrik genoeg nie.
Dawid treur oor die dooie en verwaarloos die lewende.

Tog snaaks nè, hoedat party mense skynbaar alles in die lewe regkry, presteer en uitstyg, beroemd raak selfs, maar hulle eie gesinne nie kan kleinkry nie. Dis trouens presies hoe dit met die “A-list celebrities” gaan met wie almal so behep is: die kultuur vier hulle onbeholpenheid met mense, hulle mislukking met verhoudings, hulle ontrou en owerspel.

Vir my lyk dit ons moet fyner kyk na ons naastes – dat hulle op ons liefde kan reken, dis wat tel. En dis tog húlle wat saakmaak.

Want hiérdie ding moenié gebeur nie.

Ds. Hennie la Grange
International Christian Maritime Association, Londen

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s