God maak `n plan om mens nie te verstoot nie

2 Samuel 14

13 Julie 2011

‘ n Slim vrou, een wat kan toneelspeel en van Tekoa af kom – met haar spreek Joab `n storie af wat weer vir Dawid `n slagyster stel, nes die Here se storie met Natan. Dié storie is weer nie waar nie, maar werk op die ou end net so goed. Was dit dan `n leuen? Wou Joab vir Dawid kul? Ek dink nie so nie; Joab is `n bittereinder: hy staan deur dik en dun by Dawid. En dieselfde Joab werk later genadeloos met hierdie einste Absalom vir wie hy nou nog in die bres tree, oor hy glo hy doen wat in Dawid se beste belang is. Joab glo hy doen goed.

Die vrou van Tekoa spin `n storie oor twee seuns. Die een maak die ander dood. Nou wil die familie die moordenaar met die doodstraf bykom. Maar die vrou sê sy’s `n weduwee, en hierdie seun is haar aftreeplekkie, haar pensioen en mediese fonds: hy is “die enigste hoop wat vir my oor is…” Dawid vermurwe en sy kry hom selfs sover om `n eed af te lê dat hy die seun sal red. Joab het goed gekies: sy ís slim!

Dan kom sy met die storie se kinkel: maar dan is Dawid mos self skuldig aan onreg teen die volk van God “…omdat u weier om u verjaagde seun te laat terugkom”. Dawid sit die volk in haar skoene, sê die vrou: waar is hulle toekoms? En sy looi vir Dawid met hierdie waarheid: “God wil geen lewe neem nie, Hy berei `n weg om die voortvlugtige nie te verstoot nie.” Dis mos wat genade doen, dan nie?

Nou kyk, daar is nie `n man wat makliker vatbaar is vir genade as Dawid nie. Hy is swaar op genade, `n gretige verbruiker daarvan. Vir hierdie genadige God ken hy wat Dawid is baie goed. Daarom is hy “…soos `n engel van God wat na alles luister.” En, kon sy maar bygevoeg het, een wat hom self aan die genade van God steur. Dawid verstaan God se genade eerstehands.

Dawid snap dat Joab daaragter sit. Maar hy besef ook hy’s verkeerd en Joab reg. Hy laat vir Absalom haal. Maar dis ook al.

Twee jaar gaan verby, maar Dawid en Absalom het mekaar nog nie met `n oog gesien nie: Dawid weier. Hierdie naby wees aan sy pa, vryf net in dat Dawid niks met hom te doen wil hê nie. Joab ignoreer hom ook, tot Absalom onder hom vuurmaak: hy steek Joab se land aan die brand.

Eindelik kry Dawid en Joab die boodskap: jy maak nie sonde met verwyte en wraak of `n rug-draaiery gesond nie. Ook nie deur dit net te ignoreer nie. Dit gaan nie vanself weg nie. Daar’s net een manier: jy kyk die sondaar in die oog en soen en versoen. Absalom kry eindelik `n afspraak met sy pa, buig voor hom en Dawid soen hom.

Maar ek dink die skade is klaar gedoen.

Ds. Hennie la Grange
International Christian Maritime Association

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s