Die Slag van die Koekroller

2 Samuel 11

10 Julie 2011

Dit bly verstommend hoedat God se geskiedenis die stories is van mense se lewens. Mense se stories is verhale van sonde, ongeag van hoe skoon gebad hulle is.

Dis lente. Lekker tyd vir oorlog, staan daar! En vir liefde…

Met al die soldate aan die front is hulle vroue alleen tuis. En Dawid is daar om hulle (die vroue) op te pas. Dawid sien vir Batseba bad. Sy is getroud met Urija, een van sy beste bevelvoerders, vind hy uit. Dog, dit keer hom nie: met voorbedagte rade laat hy haar haal. En voor jy kan se “sies” is sy swanger, en Dawid moet bontstaan om sy owerspel toe te smeer.

Hy laat Urija huis toe kom: as Urija by sy vrou slaap, sal hy hom kan verbeel hy’s die pa. Dawid kuier met hom oor hoe die oorlog vorder, en praat hom dan aan om huis toe te gaan en `n bietjie te gaan “rus”. Ironies dat juis die beroepsoldaat se agting vir sy koning, sy fokus op die oorlog en sy lojaliteit aan sy manskappe keer dat hy sy huweliksbed gaan opeis. Selfs as Dawid die man nóg `n nag terughou, en toe nóg een, en hom bowendien dronkmaak, kry hy nie vir Urija so ver om by sy vrou te gaan slaap nie.

Dawid raak desperaat. Hy skryf vir Joab hoe hý Urija moet doodkry. En die stomme Urija word die boodskapper van sy eie doodsvonnis. Sulke skreiende bedrog…

Om gehoor te gee aan sy koning se bevel tot moord, moet Joab nou `n ding doen wat sy reputasie as hoof van die leër gaan skade berokken. Hy moet teen sy beterwete in sy manne tot by die stadsmuur laat veg. Almal weet dis hoe Abimelek destyds dood is: `n vrou het bo van `n stadsmuur af `n maalklip op hom laat val. Die skande van in `n oorlog te sneuwel oor `n vrou jou oor die kop slaan met die spreekwoordelike koekroller… Maar hoe anders kry hy nou vir Urija dood?

So verloor Urija nou ook sý oorlog. Maar Dawid se waardigheid is verseker. Toe hy die berig kry dat Urija dood is, is hy vol troos vir Joab, nie oordeel oor die swak gevegstaktiek nie. Moet jou dit nie te veel aantrek dat mense onder jou bevel dood is nie, Joab. Dis nou maar van oorlog: mense sterf. Maar so praat Dawid eintlik sy eie onderduimsheid goed. Die koning is verlig oor `n onderdaan se dood, en dat sy eie bas gered is.

Toe die routyd oor is, doen Dawid “die eerbare ding”. Hy trou met Batseba. Maar hierdie kind van hom sou naamloos sterf, vir Dawid die bitterste pil. Dog, ook uit hierdie huwelik van Dawid en Batseba sou God Jedidja laat kom, wat beteken: “die Here het hom lief”- Salomo.

God se geskiedenis is die stories van mense se sonde wat stuit vir niks, en van hoe God die sonde te bowe kom.

Ds. Hennie la Grange
International Christian Maritime Association, Londen

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s