Die dooie hond, minirokke en `n slegte haarskeer

2 Samuel 9 tot 10 vers 14

9 Julie 2011

Dat mens oor `n slegte haarsny kan oorlog verklaar, klink bietjie erg. Maar elke getroude man weet dit kan. Dog, sny nou die helfte van `n man se baard af en stuur hom huis toe in `n minirok en jy’t ook moeilikheid. En doen jy dit in ou-Israel, wel, dan weet jy by voorbaat jy moet maar die weermag oproep. En tog lyk die soort skoorsoekery nie naastenby so erg soos die een poging tot moord op die ander nie. Watter een vergewe jy makliker? Maar Dawid maak vrede met Mefiboset, `n kreupel kleinseun van Saul, en oorlog met die Ammoniete!

Saul wou vir Dawid doodhê. Hy het vas geglo Dawid soek sy troon. En die jarelange tweestryd tussen Saul en Dawid het hulle families ook betrek. Dawid het dit `n paar keer net-net oorleef. En toe tog koning geword. As Saul se mense – dié wat oorgebly het – die kans kry, vloek en skel hulle nou nog vir Dawid, koning of te not. Hulle is aartsvyande.

Dat Mefiboset die enigste van die Saul-familie was wat met die nuwe koningshuis oorleef het, was dalk te wyte aan sy gebreklike voete. Dit was algemeen dat die vorige koningshuis man en muis uitgeroei is, om te keer dat een van hulle op die troon kon aanspraak maak. Die stomme Mefiboset is sedert vyf al gebreklik weens `n ongeluk toe sy oppasser met hom moes vlug. Hy het vir Dawid geen bedreiging ingehou nie, want `n kêrel met dié soort gebrek gaan nie oor Israel kan regeer nie. Mefiboset is, in sy eie woorde, “`n dooie hond.”

Ja, maar wat dan van Miga, Mefiboset se klein seuntjie? Dog Dawid laat hom deur Miga ook nie keer nie. Hy behandel die “dooie-hond” soos sy eie seun. Dawid reël dat Mefiboset uit die paleis versorg word. Hy gee vir Mefiboset al die Saul-familie se grond terug en stel Siba en sy vyftien seuns aan om die eiendom vir hulle te bestuur. Dawid loop met sy aartsvyand die ekstra myl.

Nagas, koning van die Ammoniete, was weer Dawid se vriend. Toe Nagas doodgaan, stuur Dawid `n afvaardiging diplomate om meelewing te betoon met Nagas se dood. Dis toé dat Ganun die manne se baarde halfpad afskeer en hulle sonder broeke Jerusalem toe terugjaag.

Dawid het fyn aanvoeling vir die skande wat die manne voel. Hulle moet in Jerigo bly, laat hy hulle weet, tot hulle baarde weer gegroei het.

Intussen ruk hy op vir oorlog, en die Ammoniete en Arameërs slaan op vlug. Die Arameërs sluit `n bondgenootskap en probeer weer met Dawid kragte meet. Dawid wen, en sy mag en invloed word al verder voelbaar.

`n Held in wording, is jou eerste indruk van Dawid: `n kragtige kryger en `n vaardige politieke strateeg wat nie met hom laat mors nie. Dog ook `n billike man wat geen bitterheid teen ou vyande koester nie.

Maar wat uit albei die stories tref, is dat Dawid deernis het vir kwesbares. Dawid kan meeleef met mense wat seerkry oor skande. Met vergifnis blaas hy nuwe lewe in `n dooie hond, en behandel hom soos sy eie kind; met fyn aanvoeling gee hy kans dat sy broeklose manne se baarde kan groei voor hulle weer in die openbaar verskyn.

Dog, dis nog maar net die begin. In God se wêreld is geen mens sonder sonde nie, ook nie Dawid nie, en hoë bome se skandes kry meer lugtyd. En nie almal is so gemaklik met genade dat hulle jou skande vergeet nie.

Ds. Hennie la Grange

International Christian Maritime Association, Londen

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s