As God se seëninge nog te min is…

2 Samuel 12 vers 1 tot 25

11 Julie 2011

Mense skryf nie alleen aan die stories wat ons wêreld laat draai nie. God vertel ook stories. Suiwer fiksie, soms! Dog stories met `n angel in die stert, wat nader aan die waarheid kom as wat die werklikheid kan. Jy sien, die werklikheid kan jy altyd plooi met interpretasies. Maar `n storie werk soms anders: `n goeie verteller kan jou indwing in net een betekenis in, sonder uitkomkans. En sulke stories kan jou ontmasker wanneer jy dit die minste verwag. God is `n goeie verteller, en sy stories, nes grappe, kom sekuur uit by die punt wat hy wil maak. Maar dit laat jou nie altyd lag nie…

Met Urija dood en net hier en daar `n bediende – en natuurlik Joab – wat die waarheid weet, is Dawid se owerspel verborge en sy nuwe swanger vrou die koningin van sy huis. Dis toe dat Natan met die storie by hom aankom: van `n ryk man en `n arme drommel wat net een ooilammetjie het. Die ryk man het troppe kleinvee. Maar die arm man maak sy een ooilammetjie hans groot, soos sy eie kind: hy hou haar aan die lewe deur haar krummeltjies te voer, uit sy beker te laat drink en sy slaap op sy skoot.

Toe die rykman `n gas kry vir ete, slag hy die arm man se ooilam vir die maaltyd.

Dawid glo Natan kom vra sy uitspraak oor die saak. Dawid is mos ook `n regter. En toe hy hom bloedig vererg oor die blatante onreg, trap hy in die strik. Want: dis `n storie Dawid, nie die werklikheid nie! Maar hy’s nietmin waar, nè? Dis `n storie só vertel dat jy moes kwaad word, Dawid, jy wat so opkom vir die onderdrukte. `n Storie uitdruklik bedoel om jou die onreg te laat sien vir wat dit is: afgryslike sonde. Dawid se uitspraak is die doodstraf vir die skuldige en `n vergoeding van vier maal die ooilam vir die verontregte.

Dis jy, Dawid.

Mens kan jou Dawid se reaksie indink. Verward aanvanklik oor die wending van die gesprek, en toe die openbare verklaring van God wat vir hom sy sonde op `n ry kom sit. Maar nie net sy sonde nie, ook sy seëninge, sodat sy sonde net al erger lyk. God lys die seëninge eerste, en sluit af met: “…en as dít nóg te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee.” Dan kom die sonde, sodat dit jou verbysterd laat. Dit laat jou dink: hoe kón jy, Dawid?

Dis ons moeilikheid nè? God se seëninge is net nooit genoeg nie. En al maak geen sonde terugskouend sin nie, want dan lyk die seëninge na oorvloed, as jy met die appel in jou hand staan kry jy honger.

Dis God wat ons laat paradys toe terugdink: “Jy sal nie nou sterwe nie”, sê Natan. Maar daar kom tog iets hier by: Dawid sal nie nou sterwe nie, want “Die Here het jou sonde vergewe.” God vergewe sonde.

Maar die sonde laat niemand ongeskonde nie. Die sonde het nou eenmaal sy sekelstert. Daar hang `n swaard oor die Dawidshuis, letterlik: geweld is hulle voorland. En die kind sal sterf.

Die naamlose kind het siek geword. Dawid het gebid en gevas en geweier om van die grond af op te staan. Toe die kind dood is, was die personeel te bang om dit vir Dawid te sê. Hulle was bang hy doen `n onbesonne ding. Maar toe die kind sterf, staan hy eindelik op, was hom, gaan kerk toe en kom eet. Toe die kind siek was het ek gedink, sê Dawid, “wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

Ek bewonder dit van Dawid: dat hy die genade wat God gee kan vat. Dat hy kan opstaan en aangaan, gelowig dat God die strydbyl begrawe het, die swaarde in sy kinders se hande ten spyt.

Dawid het vir Batseba gaan troos, en `n tweede seun is vir hulle gebore. Dis hierdie seun vir wie die Here liefgehad het, Salomo, die kroonprins.

Ds. Hennie la Grange
International Christian Maritime Association, Londen

 

Advertisements

One thought on “As God se seëninge nog te min is…

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s