Die “City”

Die City se kasteel: Tower of London

Londen is `n klein plekkie, skaars `n enkele vierkante myl.

Die reuse metropool wat alkante toe die wêreld vol rank, is soos Gauteng se Vaaldriehoek en Witwatersrand `n tros dorpe en stede wat inmekaar verstrengel geraak het.   Jy bly of in Westminster of Kensington, Chelsea of Fulham, Camden, Barnet of Brent…   Ons woon in Tower Hamlets, `n stad noord van die Thames en oos van die middestad.  Daar’s twaalf sulke stede in die binnekring, en nog twintig ander in die omtrek, twee en dertig in totaal. Saam word hulle deur een verkose vergadering geregeer, maar elkeen waak jaloers ook oor eie selfstandigheid .  Die hele stedelike ontwikkeling is die grootste in Europa.  Dis gróót.  Hier van ons af vat dit jou twee en `n halfuur Heathrow toe!

Van hierdie Groter Londen is Boris Johnson die burgemeester, `n eksentrieke Konserwatiewe kêrel met `n ongekamde wit boskaas en `n vlymskerp tong wat vir geen duiwel stuit nie en kort-kort die stad aan’t giggel het.  Hy huiwer nie om te “bla-bla-bla!” as hy nie lus het vir die pers nie, en dan haal hulle hom ook graag woordeliks aan: Boris sê: “Bla-bla-bla!” Sy verkiesing was `n frats want hier het baie lank laas `n Tory die goue ketting gedra.

Maar hierdie stadsreus  ís nie Londen nie.  Dog, jy sal vergewe word as jy van die hele plek so praat, aangesien dit nou so veelvolkig is hier dat mense nie meer vir sulke onkunde neus optrek nie.  Maar jy moenie dink jy gaan in Londen kom opgang maak as jy nie weet waar hy lê nie.  En as jy die dag in Londen aankom, moet jy weet om hom nooit op die naam te noem nie:  “The City” noem die plaaslikes hierdie myl.  (Die “of London” word veronderstel, want watter ander stad is daar tog? Nes die koninklikes het hierdie “City” nie `n van nodig nie.)  En wil jy nou regtig te kenne gee jy ken die plek soos jou palm, mag jy praat van “The Square Mile”.

Dit laat my aan Ouma dink wat eenmaal `n maand moes “dorp” toe gaan.  eThekweni noem julle dit seker nou al, “Durban” toe ek nog daar gebly het.  Eenmaal `n maand op `n rooi 220-bus (die groenes was vir ánder mense) om te gaan rekeninge betaal:  die water-en-ligte by Martin West-gebou en `n paar ander gereelde draaie – soos “the Hub” en die “Model Dairy”.  Durban het net twee middestad-strate gehad:  Smith en West.  Maar al was Durban toe al `n stad, was die “OK-Basaar” eintlik “die dorp”.  Was ons nog nie by die “OK” nie, was ons nog nie in “die dorp” nie.    En jy was ook nog nie by die “OK” nie, as jy nie ge-“pie ‘n gravy” het nie!  Maar nou dwaal ek af…

“The City” het sy eie burgemeester, `n sogenaamde “Lord Mayor”, sy eie poorte waardeur selfs Ta Liesbet net met toestemming kan kom ry, en sy eie ekonomie wat Afrika soos `n gehuggie laat lyk.

Voor jy nie by die drake verby is nie, was jy nog nie hier nie.  Hoewel min ander tekens oorgebly het van waar die een burg ophou en die ander oorvat, waak vuurspuwende drake oor die ingange van “The City”.

Die vierkante myl is die ou ommuurde stad wat die caesar nog destyds “Londinium” gedoop het.  By “Tower Hill” molstasie staan daar juis `n caesar-beeld voor ‘n stuk van die krummelende muur. Trouens daar’s nou orals ruïnes van die stadsmuur te sien wat die middeleeuse stad teen aanval moes beskerm, na die Nazi’s dit in die Blitz oopgeskiet het.  Maar die City se bakens wat die oorloë oorleef het is sy kasteel, die “Tower of London”, sy katedraal, “St Paul’s”, en die “Monument”.

Die City se nuwe ikoon is die “Piekel” soos Ampie die “Gherkin” gedoop het, `n wolkekrabber van groen glas wat lyk soos, wel, `n komkommer.

Hierdie enkele vierkante myl is die enjinkamer van die Britse ekonomie, en trouens die wêreld s’n.  As die City nies, kry die wêreld griep. Toe die City in 2007 griep kry, het die wêreld se bronchitis begin.  Met die geld wat op `n dag hier vloei, kan jy Afrika vir `n jaar of wat in weelde laat leef.

Glo dit as jy wil, van alle Europese stede het Londen – hierdie vierkante myl – die kleinste bevolkingsdigtheid.  Hier bly jy nie, jy kom werk net hier.  Stap oor `n naweek deur die verlate strate van die City en die enigste mense wat jy hier sal kry is `n skoonmaker wat iewers `n kantoor moes uitvee.  Tot selfs Moorgate molstasie maak oor naweke toe.

Maar van Maandag tot Vrydag is die City die grootste vierkante myl in die wêreld.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s