“Maam”

HRH Anne, Princess Royal

My eerste afspraak is  ’n jaarvergadering:  die “Mission to Seafarers” s’n.

Hulle beskermvrou is die koningin, hulle president prinses Anne.  En, so word ek in die oor gefluister, die “HRH” (Her Royal Highness, the Princess Royal) – dis nou Anne – lei self die vergadering.  Ek word gewaarsku:  geen toegang sonder jou uitnodiging nie, jy moet tien minute voor die tyd al sit en, ontmoet jy die vrou, spreek jy vir haar aan as “maam”.   En ’n buiginkie sal help.

By Paternoster Royal aangekom, staan daar  ’n wit vragmotor in die stegie voor die kerk.  `n Dik wit konsertinapyp  wurm teen die kerkmuur op en bo by ’n venster in:  lugversorging! Ek ril.

Die kerkie is stampvol.  Ek kry sitplek waar Hervormdes gewoonlik tuis voel: agter.  Langs ’n Engelse oom wat dadelik uitvra: waarvandaan?, en: wat maak ek dan daar? Nie lank nie of hy wys na die pyp:  “Aircon” sê die oom.  Ja, ek sien.  Weet jy hoekom?, wil hy weet.  Wel, dis warm, waag ek ’n antwoord,  maar ek is nie oortuigend nie.  Ek is dankbaar vir my pak se baadjie. Nee, sê hy hardop dat die stil kerkie ongemaklik rondskuif:  “We English stink!”

Ek dog die tante kry ’n toeval.  Die omie skuif ’n paar duim oor die sitplek soos sy hom met die elmboog gaffel.   Maar dit bring vir hom nie van stryk nie.  Nee, sê hy, ons bad mos nie graag nie.  En die “HRH” sal dit nooit met ons kan uithou nie.

“Please rise!” kom die bevel op daai oomblik en die tannie mompel iets soos “dankie tog!”

Die prinses kom in die paadjie af.  Sy’s korter as wat ek my verbeel het.  Die hare is ’n byekorf; sy dra  geen hoed nie.  Die rokkie is blou-bont en herinner my aan tannie Dollie.   Maar die handsak en skoene pas als, soos ouma Hyla s’n, en sy dra donkerblou handskoene daarby.   Geen juwele nie, val dit my op.

Nou moet ek oppas ek oordryf nie, want ek was oorbluf.

Sy vorder nie ver nie: sy stop om te groet, nog ’n keer, weer en weer.  Ek dog eers dis seker maar hoe dit gedoen word, die gewaande familiariteit; maar nee, toe sy binne hoorafstand weer kom vassteek, groet sy iemand op die naam.  “Ons moet kuier!” sê sy voor sy aanstap.  En by iemand anders weer: “Ek het jou so lanklaas gesien! Gaan dit goed met die kinders?”   Eindelik kom sy voor by die tafel aan en gaan sit.

Iemand lei die oordenking.  Dan staan die HRH op.    Sy groet op ’n geselstrant, asof die gehoor ou vriende is.  Sy herken gesigte in die gehoor en gee erkenning.  Dan vertel sy hoe sy die afgelope jaar seemansentrums van die MtS wêreldwyd besoek het.  Dit gaan goed met die dominee in Dubai, maar die ou in Japan sukkel…  Sy lei die vergadering foutloos.  Hierdie vrou weet wat sy doen.  Sy’s ’n aanwins vir die Mission.

Ons moet uit die kerkie uit, om ’n hoek loop na die banketsaal toe waar die onthaal wag.  In die portaal staan sy.  ‘n Man vat my naamkaartjie, sê vir haar wie ek is en sy steek ‘n handskoen na my toe uit.  Ek “maam” haar half-verleë en buig onbeholpe.

Wel, dit vra om gedoen te word:  nog net ’n week in Engeland en die HRH ken my op die naam.  Ek wag nou nog net vir die uitnodiging  om te kom tee en komkommerbroodjies eet.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s