Pelgrimstog

Loop staan met jou rug teen Nelson se paal (dis nou die Engelse Nelson wat vir Napoleon op sy herrie gegee het), tussen die twee leeus, met jou neus min of meer in die rigting van die lord se blik.  Agter jou is Trafalgar Square, links is Suid-Afrika Huis en onder in die pad staan Big Ben.   Hier begin die pelgrimstog vir verlangende verlooptes.

Voor jy tot hier kom moet jy sorg vir proviand en versterking.  `n Lang brood sal goed werk,  aangesien jy geen Wheatsworth koekies hier gaan kry nie.  Maar jy kry ook nie geroomde maaskaas hier nie, die goed het al’s korrels, en dit sou in elk geval nie werk met Wheatsworths nie.  n Stilton-kaas of `n brie, of dalk `n Deense blou, of `n bakkie Philadelphia miskien, selfs `n gewone dog beleë Cathedral, hulle kan almal werk.  Maar die Blaauklippen of die Nederburg sal jy maar in die bagasie moet saambring.  Daar’s `n paar SA-winkels wat Niknaks en Savannah’s verkoop, maar daarvoor het jy baie sakgeld nodig, meer as wat ek het, ek wat hier probeer leef…

As dit kan, moet jy dit doen op 31 Mei.  Sommer net.  Glad nie oor jy heimweë het oor vergange vergrype nie, net bloot oor dit die dag is van Sandrivier en Republiek.

Queen’s Gate

Noudat jy die rugsak vol het en jou rigting gekry het, loop regserig.  Stap by die verkeerslig oor die pad, Whitehall se kant toe.  Afdraand, vir dié wat nie lus het vir padname soek nie.  Dis nie Europa hierdie nie, jy kan maar enige plek oor die pad loop, maar hier by Trafalgar sal ek dit nie aanpraat nie…
Oorkant die pad aangekom draai jy op die sypaadjie links.   As jy op hierdie sypaadjie bly wat  algaande na regs neig,  staan jy kort voor lank voor die drie boë.   Die middelste een is met `n staalhek toe.  Net die tannie wat onder in die straat bly, ry daardeur (dis haar huisie daar heel onder in die pad as jy met die Mall afkyk).

Nou’s ons amper daar.  Vir Suid-Afrikaners vars uit die vaderland al amper `n dagreis te perd gegewe die gebrek aan `n BM of `n Benz.

Loop onder die regterboog deur.  Voor jou, regs op die sypaadjie staan `n Boer en `n Engelsman.  Of liewer: die Boer lê, dis die Engelsman wat triomfantelik die oorlog wen…  Dis oor ek en jy weet dis nie waar nie, dat ons hier gaan sit en brood breek en `n botteltjie Kaaps knak.

A, maar kyk mooi:  hierdie Rooibaadjie staan nie op `n paal nie, nè?

Jy sal bly wees om te weet dat nou nog, elke jaar op 11 November, iemand hier kom rooi papawer kransies staanmaak.   Hulle’t hulle feite verkeerd, maar ten minste darem het hulle nog nie van ons vergeet nie.  Dalk oor ons hulle destyds op hulle herrie gegee het…

Hennie la Grange

Advertisements