Lent (sonder die “-e“)

Verrassend van die eiland is dat die kerklike jaar neerslag vind in die verloop van die Britse jaar.  Sewe weke voor Pase begin Lent, lydenstyd.  Ek vermoed ons woord “lente” kom daarvandaan?  Dog slim genoeg het ons die lente (met `n “–e”) gaan sit voor somer, nes hier in die Noorde.  Jammer dan dat ons nie Kersfees ook kon skuif nie.

Hier in die Noorde hoort “Lent” voor Pase.  Kersfees is agter die rug.

Met Lent gee jy iets prys, dis die gebruik.  Jy kom klaar sonder iets wat jy gewoonlik sommer as vanselfsprekend sou aanvaar. Nie `n algemene vasting nie, net een ou kleinigheidjie.  Dan herinner die daaglikse gemis daaraan jou aan `n verantwoordelike lewe voor God.  En dat so `n lewe offerbereidheid vra.  Dis in skrille kontras met die oordaad van Kersfees…

Dit reen die Dinsdag.  Dis Maart, en van Maart sou ek leer dat dit die onplesierigste tyd van die jaar is.  Maart is `n maand wat hunker na Kersfees, of iets wat opkikker.  Die lig haal wel die donker in sodat die dae en nagte teen die einde van Maart ewe lank word.  Maar dis skrale troos.  Maart is wind-maand.  Die koue voel bitsiger en die donker ondraagliker.   `n Woedende winter protesteer in Maart met laaste stuiptrekkings oor sy verlore stryd.  Seker geen wonder nie dat die son-bidders met die dag-en-nag-ewening op Primrose Hill in kringetjies dans om die son dag te sê nie.

Maart: “lent”.  Lydingstyd.

Die pendelaars se stryd met sambrele sou regtig komies kon wees.  Daai Dinsdagmore voor “lent”, was ek self een van hulle.  Met stekelrige wrakke van sambrele in die hand beur ons gebukkend teen die reën en die wind in kantoor toe, sopnat.

As daar van Londen se winters een ding is wat ek sal onthou is dit die reuk van vars gemaalde koffie.  Koffiekroegies staan soos hare op `n hond se rug in Londen rond.  En hulle roep jou, soos sirenes `n gedoemde skip.  Die appel in die paradys kom nie naby die versoeking van Costa se koffie nie.  Lei my nie in versoeking nie, bid ek want ons betaal nou nog in rande vir hierdie duur pond.  Oor die R30 vir `n koffie is dik vir `n daalder.  Buitendien: daar’s kitskoffie by die kantoor…

Maar dis by een so `n koffiewalm dat die Engelse my die Dinsdag onverhoeds betrap: pannekoek, sê die bordjie op die sypaadjie.  Ai, waar trek my hart `n punt: snaaks, nie na basaarpannekoek nie, maar na ouma se reëndag-pannekoeke.

Ek kry by die eerste pannekoekbordjie verbygeloop, maar tien treë verder is daar nog een:  regte pannekoeke met kaneel, sê dié een.  Net langsaan is daar nòg een, en nòg een.  Die vlees is swak, maar die gees is swakker.  Hier sit ek nou met pannekoek en koffie en voel soos die dood.

Jy moet van jou suiker en eiers ontslae raak voor “lent”, sien, leer ek die dag van my Engelse vriend. Want oor lydenstyd gee jy suiker en eiers prys.  Jy gooi daarom jou suiker en eiers in `n pannekoekdeeg die Dinsdag voor “lent” begin.  “Shrove Tuesday” noem hulle dit, “shrove” `n oud-Engelse woord vir skuldbelydenis, net voor die vasting van “lent”.

Ek offer, so voel dit vandag.  Ek offer die son, die kinders, die familie, die Kerk en die vriende: al’s wat warm maak. Ek vas al so lank, en daar in die Costa haal dit my met pannekoek in.  Lydenstyd.

Dat aan die einde van die lydenstyd `n pase kom was nog nooit vir my so welkom nie.  `n Opkikkering wat my vir eens laat voel Kersfees kom nie by opstanding by nie.

Hennie la Grange

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s