Die Engelse weer

Die baadjies was net vir Johannesburg bedoel.  Toe was dit nog “Johannesburg Internasionaal”… (die “goeie ou dae” word nie eers meer waffers oud nie!)  “O, koud is die windjie en skraal…” sou mens eintlik moes kon sê van Junie in Transvaal.  Maar ons staan op Heathrow in plasse water bibberend en wag op `n kennis wat beloof het hy kom ons oplaai.  Die baadjie is te dun en die koue kom diep by.

Eers toe ons in die kar is, vra San vir die Engelsman:  “Is jy seker dis somer?”  Met `n humorsin wat my vorentoe nog deur talle driwwe sou sleep, antwoord Roy:  “No!  Next time you should really try coming in  summer!” Oor drie dae draai die son suide toe: dis so “midsummer” as kan kom!

Op pad huis toe, leer ek my eerste lesse oor die Engelse.   Hulle praat graag oor die eiland se weer.  En dit maak nou vir my sin:  hier verander die weer so dikwels dat jy heeldag met dieselfde ou kan kuier sonder om eenkeer met `n mond vol tande te sit.  Jy praat net oor die weer! “If you don’t like London’s weather, wait fifteen minutes.”

En al die gepraat oor die weer help dat jy een van die kosbaarste kultuurgoed van die “great British public” in stand hou:  die “stiff upper lip”.  Hier ryg mens mos nie derms uit nie.  Die hart sit nie op die mou nie.  Huilende Amerikaners is hier `n bespotting.  Daarom, heel gepas dat die weer wispelturig is, want dit gee jou iets om oor te praat sonder dat jy iets van jou siel verklap.  Met die weer op almal se lippe, bly die hart en die niere veilig verborge.

Moet dus nie te gou jou neus vir die Engelse weer optrek nie.  (Dis buitendien nie so sleg soos almal jou wysmaak nie!) Want weens die weer het die jaar hier seisoene soos `n dag ure het.  (Vertel my iets wat ek nie weet nie, hoor ek jou sê?  Onthou, ek kom van Durban af.  Al ding wat daar enigiets van `n seisoenwisseling geweet het was die heining tussen die kerk en die pastorie.  Dit was dieselfde plant, vermoed ek, wat in die goeie (stok-)ou dae die Ou Lettere-gebou by Tukkies toegegroei het.  Die jaar word ryp in Leipoldt se akkerblare…)

Maar ek’s oortuig dis nie net ek nie.  Hier word die seisoene gepraat en geleef. Nooit het ek ons in Afrika so gehoor praat dat in die somer ons dit doen en in die winter dat nie.  Nie soos hier nie.

Die seisoene is `n tydmaat.   Nes kerkklokke op Sondae.

Londen vier die somer.  Hier’s `n hele somerprogram van gebeurlikhede, feeste en vermaak, die meeste van hulle in die buitelug.  En al reën jy sopnat, dis somer en dit hoort so en jy sal dit geniet!

En Londen omarm die winter met ewe veel oorgawe. Dis koud, maar dis dan winter, wat anders?  Kortom, hier laat jy jou nie deur die weer afskrik nie.    Die weer is al waaroor almal praat, dog niemand steur hulle regtig aan die weer nie.  Net aan die seisoene.

Toe die kar voor ons huisie stilhou was dit die eerste ding wat ek sien:  `n bedding oorvol bloedrooi malvas.   Somer.  Die son kom rypappelrooi op in my bedding malvas.

Eers die volgende somer, na `n bitter winter, het pa vir my die klok wat die kerk my gegee het langs die voordeur kom hang.  My kerkklok en rooi malvas:  so begin ons leef in Londen.

Hennie la Grange

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s