Afskeid en vertrek

Dapper oomblikke met Raal en Andrew
Dapper oomblikke, saam met Raal en Andrew

Min van ons doen dit met onderskeiding: vertrek.

Afrikaanses kry nie klaar nie.  Na die eerste koebaai word daar eers vertel van dinge wat met die afskeid geen verband hou nie.  Dan word die kar bekyk.  Daar word staaltjies uitgeruil oor onvergeetlike ritte na ver plekke toe, en van die gevaartes waarmee die “toer door Afrika” aangepak is.  Soms val jou by `n storie van `n maat wat saam is, en dan weer van `n vyand wat langs die pad afgelaai is.   Maar dit kan jy maar weet: was dit huisbesoek, basaar of `n rugby-braai, die gelopery vat lank. Want wat jy moet los, los jy nie sommer met lus nie.

Teen Augustus reeds was die afskeid in die lug: uitgenooi vir `n onderhoud Berlyn toe.  Maar eers teen 10 Mei staan ons voor die kar vir die groetery. Die pastorie is ingepak.  Die koesisters is stroperiger as ooit. (Helaas, die “brandy snaps” is te vroeg saam met tannie Dollie graf toe.)

Terug om die galmende dop van `n huis te gaan skoonmaak, sit ons op die vloer en koffie.  Sebastiaan, die basset, is al wat treurig lyk.  Ons waak gans te goed teen sulke naakte emosie.

Ek onthou die vlooiplaag toe ek 20 jaar tevore, op `n week na, die sleutel by tannie Hettie gaan haal en die pastorie (my eerste pastorie!) gaan oopsluit het… As klein jakkalsies die wingerd verniel, kan vlooie jou hemel opvreet.

Nou kom die familie en die vriende…  Een vir een kry ons die gegroetery gesê, maar nie gedoen nie.  Niks voel afgehandel nie.  Maar al’s skreeu van verliese gely:  die motors is verkoop, die meubels uitgedeel, die klere kom in twee koffers.  En die langste nag van die suidelike winter lê ons soos `n rower en inwag.

21 Junie 2007.

Daar’s goed waaroor mens nie praat nie.   Die kinders op `n rytjie, langs ons ouers, en nog `n paar van die bestes, by die lughawe…

Maar adrenalien hou jou dapper:  ons glimlag, ons waai en draai die rug vir die wegloop.  Ons kry selfs geloop!

Dis toe ons in die ry staan op pad na die Boeing toe dat `n swart vrou met `n lyf so groot soos Afrika self, vir San aan haar bors kom druk.  “Vrou,” se sy, “die Here weet waar jy heengaan en waar jy vandaankom.”

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s